Hoop Nogtans
n Plasing op Facebook ‘n paar dae gelede trek my aandag. ‘n Amerikaanse soldaat is aan die woord, een wat onlangs in Israel diens gedoen het. Hy praat oor ‘n Bybelse drankie wat net twee bestanddele het en wat Alzheimer se siekte voorkom. Hierdie drankie is so effektief, dat daar vandag geen geval is in Israel van Alzheimer se siekte nie, sê hy, want hulle volg steeds hierdie resep. Nou luister ek, hulle het my aandag, want ek lees die Bybel vir langer as 60 jaar en ek het nog nooit hiervan gelees nie. Buitendien, die storie oor geen Alzheimer se siekte in Israel vandag kan nie waar wees nie. Vir die rekord, volgens ‘n publikasie van die Israeli Departement van Gesondheid op 20/11/2025 was daar 120 000 gevalle van dementia in Israel in 2018. Maar ek wil weet wat die Bybel hieroor sê, so ek luister verder. Ek luister verniet, daar is nie ‘n woord hieroor verder nie. Dan is Bill Gates aan die woord. Hy het baie geld beskikbaar gestel uit sy eie fondse vir navorsing oor Alzeimer se siekte. Dit is die waarheid. Dit lyk soos Bill Gates. Dit klink soos Bill Gates. Maar iets is verkeerd. Geen mens praat so afgerond, sit so stil vir ‘n lang ruk terwyl hy praat nie. Dis ‘n gekloonde weergawe van Bill Gates. ‘n Wetenskaplike begin praat oor sy navorsing. Sy bevinding word onderdruk deur Big Pharma, die groot name agter die farmaseutiese bedryf. Hy het bevind daar is twee bestanddele wat Alzheimer se siekte kan voorkom. Heuning en kakao. Kakao word definitief nie in die Bybel genoem nie. Kakao is verbou in Suid-Amerika van die vroegste tye, en eers in 1519 deur die Spanjaarde na Europa gebring. Hier het ek ophou luister na die twak wat verkondig word. Ek weet wat nou volg. Die produk om Alzheimer te voorkom wat hulle bemark. Maar hoe kan mens hulle vertrou as hulle hele bemarking op bedrog gebou is. Soveel leuens. Soveel valsheid. Dit maak my kwaad. Hier is mense wat nie skroom om die Bybel te misbruik om mense se aandag te kry nie. Daar is niks in die Bybel hieroor nie. Hier is mense wat Bill Gates se beeld en stem gebruik maar dis nie hy wat aan die woord is nie. Mense wat liggelowig of onkundig is, word mislei om iets te koop wat nie Alzheimer voorkom nie. Mense wat desperaat is, miskien. Die kans is goed dat mense wat dit die minste kan bekostig, die duur produk gaan koop – ‘n waardelose produk. Wat my nog kwater maak, is dat Facebook dit toelaat. Hierdie soort ding word gedryf deur mense wie se harte so vol hebsug is dat hulle nie skroom om deur misleiding hulself te verryk nie. Dis niks nuut nie, net die metode is nuut want die tegnologie is vandag beskikbaar om mense so maklik te mislei. In Numeri 22 maak ons kennis met Bileam, ‘n waarsêer wat deur die koning van die Moabiete gehuur word om vloeke oor die Israeliete te kom uitspreek. Bileam is iemand wie se hart so vol hebsug is, dat hy enigiets sal doen om goud en silwer te bekom. Ons lees meer oor hom in Numeri 22. Kom ons kyk bietjie dieper.
39 episodios
Comentarios
0Sé la primera persona en comentar
¡Regístrate ahora y únete a la comunidad de Hoop Nogtans!