God se plan met jou is groter as jou verlede!
‘n Artikel ‘n paar jaar gelede in Golfdigest, die bekende tydskrif vir gholfentoesiaste, fokus op waar die woord mulligan in gholf sy oorsprong het. Een moontlike verklaring is dat David Mulligan, ‘n Kanadese amateur gholfspeler, die eerste keer die woord gebruik het in die 1920’s. Hy speel gholf met ‘n paar vriende. Mulligan se eerste hou is windskeef. Baie vies vir homself, sit hy ‘n nuwe gholfbal op die setperk, en slaan nog ‘n hou. Sy vriende kyk hom verbaas aan. “Wat doen jy?” Dis mos nie hoe dit werk in gholf nie. Mulligan se antwoord: “Ek neem ‘n mulligan.” Vandaar die gebruik in amateur gholf, as jou eerste hou hopeloos is, kan jy maak asof dit nie gebeur het nie. Jy kry ‘n tweede kans.
Sou dit nie lekker wees as ons ook in ons elkedagse lewe mulligans kan kry nie! Die verkeerskonstabel is besig om ‘n boete vir ‘n spoedoortreding uit te skryf. “Dankie, konstabel, ek sal nou ‘n mulligan neem. Hier’s jou kaartjie, ek verkies om dit nie te neem nie.”
So baie mense leef met soveel selfverwyt oor hul mislukking in die verlede. Hulle kan hulself nie vergewe nie. Hulle leef met die idee, ek kan nooit weer wees wat ek was nie. God se Wood het ‘n boodskap vandag vir daardie persone wat aktief vir die Here geleef het, en Hom toe gefaal het deur wat hulle verkeerd gedoen het. Jy glo jy sal nooit weer bruikbaar wees vir die Here nie. Jou getuienis, jou werk vir die Here, jou vrymoedigheid is finaal gekelder. Die Here Jesus gee vir Petrus ‘n mulligan wanneer hy vir Petrus en ses ander dissipels ontmoet net na Sy opstanding uit die dood. “Jy kan maar oor begin. Ja, jy het ‘n baie slegte hou geslaan toe jy ontken het dat jy My ken, toe jy My verloën het. Kom ons werk aan jou herstel.” Joh. 21:1-22 (NLV) verduidelik, GOD SE PLAN MET JOU IS GROTER AS JOU VERLEDE!